PDF Print E-mail

 

Woorde van lof vir “Wat Adam my van seks geleer het”

 

Timothy is iemand wat dit oor bestaande grense van beperkings waag. Wat Adam my van seks geleer het, is ʼn openbaring van God se plan met ons seksualiteit. Wat voorheen as vooropgestelde taboes beskou is, word ʼn deur tot ʼn nuwe vars en spontane verhouding met God en jou huweliksmaat. Dit gee jou vrymoedigheid om jou seksualiteit sonder skuld en skaamte te kan uitleef. As Timothy se ouers, erken ons sy passie vir mense en dat hy die volledige mens; gees, siel en liggaam wil verryk om sodoende bestaande verhoudings en families te versterk. Knap gedaan Timothy! Ek weet hierdie boek gaan almal wat dit lees baie seën.
- Gary en Rhona Kieswetter, Bedieningsegpaar

Om oor seks te skryf, sit nie in enige ou se broek nie. Om seks vanuit ‘n Bybelse perspektief te benader, nog minder! Tog is seksualiteit so ‘n alledaagse deel van ons menswees. Christene s’n ook ... en, glo dit of nie, Bybelkarakters s’n ook. Eindelik is ons Suid-Afrikaners op ‘n plek waar ons dit nie meer agter bakhande hoef te fluister nie: Seks ís ‘n wonderlike geskenk vanaf God! En dit is tyd om daaroor te praat, te redeneer, te sing en te skryf. So, dankie aan Timothy Kieswetter wat, met die skryf van dié boek ‘n baie taai tema soos ‘n moderne, dapper Dawid met sy kettie aangepak het. Die resultaat is ‘n eerlike, openhartige boek, geskryf op ‘n humoristiese en eenvoudige trant. ‘n Boek wat elke man, getroud én ongetroud, van enige ouderdom moet deurlees en as gids langs sy bed moet hou. Tussen die letters word vae Bybelfigure ménse. Manne wie se stories jou ‘n paar goeie wenke kan gee oor temas wat strek van vaderliefde tot libido-verskille, van vlerksleep tot voorspel. Ook ernstige temas soos prositusie en buite-egtelike verhoudings word kaalhande getakel, sonder dat Timothy preek of oordeel.

Hy skryf op ‘n prettige, lighartige manier, maar kry dit tog reg om die karakter van hierdie geestelike Bybelmanne vlees te gee. Die stories, lesse vir die moderne man, asook wetenskaplikes se siening oor die betrokke temas, maak van die boek ‘Wat Adam my geleer het van seks’ ‘n lekkerleesboek wat die leser laat met ‘n dieper verstaan van eeue-oue worstelinge wat elke hedendaagse Adam vandag nog moet deurtrap.
– Annelize Steyn, INTIEM Tydskrif

Nadat mens hierdie boek gelees het, kyk mens met nuwe oë na die Bybel. Timothy kry dit reg om wonderlike Bybelse-waarhede oor seksualiteit, wat te lank verborge gebly het, vir mens prakties verstaanbaar te maak en dit is bevrydend. Soos die Woord tereg sê “die waarheid sal jou vrymaak.” Na ons oor die afgelope 18 jaar meer as 3000 pare beraad het, kan ons met reg sê dat seksualiteit in die meeste huwelike ’n uitdaging is en daarom is ons baie opgewonde oor die hoeveelheid paartjies wat hierdeur gehelp gaan word.
- Gustav en Elna Muller, Huweliksberaders

Timothy Kieswetter verstaan die dinamika van manwees en intimiteit in die lig van die bedryfstelsel van Jesus Christus padlangs en suiwer. Hy weet dat God in die verhoudingsbesigheid is. In hierdie boek het hy ʼn vars inslag rondom die vereistes wat God stel vir manne. Ek is gek oor die manier hoe hy die Woord oopbreek, so sonder om akademies te raak, lekker op die man-af gemaklik, maar met soveel impak dat ek amper ʼn paar keer sonder voortande gesit het.

Ek het die voorreg om met hom te deel deur middel van die radio medium op ʼn gereelde grondslag binne die geselsprogram, Gesonde Seksualiteit, op Radio Namakwaland. Hierdie boek maak die evangelie relevant en toepaslik om die daaglikse hekkies van manwees te identifiseer, want dit gaan jou vir altyd anders laat dink en optree binne jou unieke verhouding.
- Jan-Hendrik Kleynhans, omroeper, Radio Namakwaland 93.4fm

Uiteindelik iemand wat die guts het! Timothy het nie net die guts om oop en eerlik oor seksualiteit te praat nie . . . hy gaan selfs ʼn paar stappe verder en verbind (ongehoord) seksualiteit en Bybelse karakters kreatief met mekaar. Hierdie boek gaan vir seker nuwe denke stimuleer, vlakliggende vrae ontblood en heel waarskynlik gesonde seks as klimaks tot gevolg hê!
- Johan Beukes – Geestelike leier, Mosaïek gemeente

In Wat Adam my van seks geleer het word bekende Bybelfigure gebruik om die oeroue en moderne uitdagings van seksualiteit op ʼn verstaanbare en toeganklike wyse uit te lig. Deur die fokus op die lesse vir die moderne man en veral ook deur die goed nagevorsde wetenskaplike inligting wat bygewerk is, kan die leser van onnodige skuldgevoelens en taboes ontslae raak en kan seksualiteit ʼn gesonde en regmatige plek in die totale menswees in terme van liggaam, siel en gees inneem.

Timothy Kieswetter het hier baanbrekerswerk gedoen. Deur die fisiese, emosionele en godsdienstige aspekte van seksualiteit suksesvol te kombineer in ʼn gesonde geheel. Hierdie is ʼn waardevolle boek, vir die moderne Christen-man.

Seks is goed. Seks is ʼn gawe van God en seks is ʼn plesier. Met liefde en intimiteit word dit sielskommunikasie!
- Elmari Mulder Craig, Seksuoloog

Timothy is ʼn kenner van die Bybel en seksualiteit. Hy ontsluit die geheimenisse van die Bybelfigure se seksualiteit op ʼn vars en verfrissende wyse. Timothy beweeg met wysheid, kennis en vaardigheid binne die pole van humor en erns, teorie en praktyk asook geloof en werklikheid. Hy het drie jaar se intensiewe akademiese opleiding in seksologie met lof geslaag. Tans werk hy aan sy Meestersverhandeling waar hy navorsing doen oor die Christelike-geloof en seksualiteit.
- Prof Johann Lemmer, President van die Akademie vir Seksuologie van Suid-Afrika