PDF Print E-mail

David - Is jy skaam omdat jy kinky is?

“Terwyl die ark die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans voor die Here en sy het hom in stilte verag..."

“Saul se dogter Mikal het hom tegemoet gegaan en smalend gesê: "Hoe waardig het die koning van Israel hom vandag gedra! Hy het hom die heeldag voor die slavinne van sy onderdane ontbloot soos ʼn onbeskaamde mens wat hom sommer ontbloot."
2 Samuel 6:16

Meer oor sy storie

Dawid het duidelik geen probleem met sy seksualiteit of sy sensualiteit gehad nie. In hierdie spesifieke geval was hy opgewonde oor die feit dat die ark van God weer terug was in Israel en het ’n groot verwelkomingseremonie gereël om dit te vier. En soos jy weet hoe meer opgewonde jy oor iets raak, hoe moeiliker raak dit vir jou om dit weg te steek! Dawid het so opgewonde geraak dat hy begin dans en rondspring het van pure opgewondenheid.

Nie almal het egter in Dawid se vreugde gedeel nie en was glad nie ingenome met die idee dat hy rondom die heilige ark van God gedans het nie. Hulle het gevoel dat Dawid se opgewondenheid onrespekvol en oneerbiedig was. Dawid se vrou Mikal, was een van diegene wat nie sy lawwigheid goedgekeur het nie.

Dis interessant dat die Bybel Mikal beskryf as Saul se dogter en nie as Dawid se geliefde vrou nie. Daar was ʼn tyd gewees dat Mikal dolverlief op Dawid was en waar hy niks verkeerd in haar oë kon doen nie. Maar na ʼn paar jaar se getroude lewe het haar liefde vir hom verflou en het sy sy optrede as laf en kinderagtig beskou. Dawid aan die ander kant het homself gate uit geniet en sy gedans het volgens Mikal te vêr gegaan. Volgens haar het hy ʼn bietjie te veel lyf gewys! Sy was sekerlik ook groen van jaloesie omdat die ander vrouens te lank vir hom gekyk het!

Mikal wou alles reg en volgens die boek doen wanneer dit by die dinge van God gekom het. Sy het seker gemaak dat alle rituele rondom die ark ordelik geskied het. Maar Dawid was meer daarop gefokus om sy verhouding met sy Skepper te geniet. Waar Mikal op werke gefokus was, was Dawid op sy verhouding met God gefokus. Die verskil tussen werke en verhouding word mooi uitgebeeld in die Nuwe Testament in die verhaal van Martha en Maria.

God wil hê dat ons ons verhouding met Hom moet geniet en wil nie hê dat ons moet probeer werk vir Sy guns nie. Godsdiens het nogal ʼn manier om die blydskap en vreugde uit jou verhouding met God te haal! Partykeer haal die lewe ook al die genieting uit die huwelik uit. Die dag se stres bring ook paartjies by die punt waar al die plesier by die venster uit is. God wil hê dat jy jou verhouding met hom moet geniet net soos wat jy jou vrou seksueel geniet.

Les vir die moderne man

Daar is baie wat ons by Dawid kan leer. Dawid alleen verdien dalk ʼn boek op sy eie omdat daar so baie is wat vandag van toepassing is op ons moderne mans se lewens.

Ons sien hier dat Dawid nie skaam vir sy spiritualiteit of sy seksualiteit is nie. Dis dalk gepas om hier te noem dat ons seksualiteit ʼn aardse skadubeeld is van ʼn hemelse spiritualiteit. Hoe beter ons ons eie seksualiteit kan verstaan en geniet, hoe beter kan ons ons eie geestelikheid verstaan en geniet.

Dawid se liberale vertolking van sy gevoelens het meer spesifiek sy vrou ongemaklik gemaak as enige iemand anders. Sy was skaam omdat Dawid kinky was! Om kinky te wees beteken om spelerig op ʼn seksuele manier te wees waaraan mense nie gewoond is nie. Dit klink amper soos tsâchaq waarvan ons in die hoofstuk oor Isak gelees het. Wikipedia beskryf kinky as seksuele gedrag wat buite die grense van wat as normaal beskou word strek om die intimiteit tussen twee mense te verdiep.

Dawid se verhouding met God was anders as wat as normaal beskou was. Dawid se manier van aanbidding het byvoorbeeld heeltemal verskil van die manier waarop Mikal of Martha God aanbid het. Dawid het ʼn intieme liefdesverhouding met God gehad wat min mense verstaan het.

Man tot Man

Kan jy jou sekslewe definieer as voorspelbaar en gewoon? Waag ’n bietjie om iets anders in die slaapkamer te probeer!

Wat sê die wetenskaplikes

Dit kan nogal dramaties wees wanneer ʼn man en ʼn vrou hulself op twee uiterste punte van die libido-spektrum bevind. Die een is lus en die ander een se lus is geblus! Die een is meer liberaal en waaghalsig en die ander een meer konserwatief en gereserveerd. Dis presies die situasie waarin Dawid en Mikal mekaar bevind het. Ons lees in Sameul 6:23 dat Mikal nooit enige kinders gehad het nie. Die rede vir haar kinderloosheid kan as gevolg van vrugbaarheidsredes wees, maar dit kan ook wees dat sy glad nie seksueel met Dawid wou verkeer nie. Dawid aan die ander kant kon dalk geweier het om saam met iemand te slaap wat hom as laf en kinderagtig afmaak.

Partykeer kan ʼn paartjie seks te ernstig opneem met vernietigende gevolge. Prediker 9:9 sê dat jy die lewe moet geniet met die vrou wat jy liefhet want dit is wat jou toekom vir al jou harde werk. God het seks gemaak sodat ons die lewe sal geniet!

Daar was ʼn tyd dat Dawid en Mikal mekaar liefgehad het, maar hul liefde vir mekaar het iewers langs die pad verlore geraak. Natasha Valdez skryf in haar boek, A little bit kinky, dat paartjies die kink in hul huwelik verloor omdat die emosionele konneksie tussen hulle verlore geraak het. Voordat jy seksuele genot by die G-kol kan kry, moet jy eers verby die Ons-kol gaan.

Die kans dat jy en jou vrou op dieselfde libido-vlak was toe julle ontmoet het, is baie skaars. Maar nadat julle mekaar intiem leer ken het, en daar ʼn sterk emosionele band tussen julle gevorm het, maak dit nie meer so saak dat julle nie op dieselfde libido-vlak is nie.

Clifford Penner en sy vrou, Joyce, het saam ’n boek geskryf oor hoe om ’n passievolle, intieme en genotvolle liefde vir mekaar te kweek. In hulle boek noem hulle so paar wenke hoe om die ligter, anderste as normale, (kinky) deel van seks te geniet en te ontwikkel. Hier is ʼn opsomming van ʼn paar van sy wenke:

• Lag saam met mekaar – Daar gebeur dalk iets vreemds terwyl julle seks het, wat as julle toelaat, baie snaaks kan wees en wat julle saam oor kan lag. Hierdie gaan slegs werk as julle albei saam daaroor lag en nie vir mekaar nie.
• Eksperimenteer – Moenie so hard op jouself wees as jy iets nie die eerste keer regkry nie. Hoe meer jy eksperimenteer en oefen, hoe beter sal jy raak. Maak beurte om seks te inisieer en kies elke nou en dan ʼn nuwe plek om dit te doen.
• Verras mekaar – ʼn Verrassing is vir sommige vrouens lekker, maar vir ander sit dit totaal af. As jou vrou van verrassing hou, maak seker jy gaan groot! Maar as sy meer van orde en roetine hou, is dit dalk ’n goeie idee om vooraf saam aan die “verrassing” te beplan.
• Bederf mekaar – Gee vir jou vrou ʼn lekker rugmassering of tap vir haar ʼn bad en strooi roosblare oor die skuim. Al wat saak maak is dat jy vir een uur lank jou onverdeelde aandag aan haar skenk.
• Plesier mekaar – Vergeet vir ’n oomblik wat vir jouself lekker is en fokus net op wat vir jou vrou lekker is.
• Terg mekaar – Hierdie is ’n ‘skoon’ terg waar niemand seerkry of persoonlik raak nie. Die idee is dat jy altyd bietjie sal terughou tydens voorspel sodat sy nog meer van jou wil hê.
• Speel met mekaar – Dokter-dokter . . .

Ter opsomming
• Dawid was gemaklik met sy seksualiteit asook sy verhouding met God.
• God het seks vir ons gegee om die lewe te geniet met die vrou wie ons liefhet.
• As julle sukkel om saam te speel, moet julle saampraat totdat julle emosioneel weer met mekaar kontak gemaak het.