Die van julle wat my nou al ‘n rukkie volg en al my boeke gelees het en shows kom kyk het, sal weet dat ek ‘n liberale manlike feminis is, wat fokus op die individu en geanker is in my diep geloof in God. Ek moet elke keer noem dat ek nog ‘n Christen is en in God glo, want elke keer as mens met ‘n nuwe siening of perspektief vorendag kom, wat die status quo van die samelewing bevraagteken, dan is dit een van die eerste aantuigings: “Hy is nie meer ‘n gelowige nie. Hy is new-age.” Of so iets.
Net om nuwe idees, konsepte en sosiale- groei en ontwikkeling in ons lewens, verhoudings en samelewing, aan te beveel, beteken nie dat ons nie steeds kan vashou aan ons geloof en tradisies nie.
Selfs Jesus het met hierdie probleem gesukkel elke keer wanneer hy iets nuuts of anderste kom sê en doen. “Dit staan geskrywe (tradisie), maar ek sê vir julle… (iets nuuts)”
“Ek het nie gekom om die wet (tradisie) weg te neem nie, maar om dit te vervul (iets nuuts)”
En dit is met hierdie intrapslag, dat ek die artikel, asook met die nuwe jaar mee wil begin. Hou ons vas aan die stereotiepe van ons geslagsrolle wat ons tradisie vir ons voorhou? Man is die hoof broodwinner. Die man is die hoof van die huis. Die man moet die broek in die huis dra. Die man moet die jagter wees. Die man moet die leiding neem. Die man se gesag is veto.
Die vrou is die emosionele een. Die vrou moet haar man ondersteun. Die vrou is verantwoordelik vir die huis en kinders. Die vrou moet haar man nie weier met seks nie. Die vrou moet gelei word. Die vrou moet onderdanig wees.
In 2020 is hierdie spesifieke rolverdeling tussen
man en vrou baie moeilik om by te bly. Vrouens werk nou net so hard soos mans.
Mans is al hoe meer betrokke met die grootmaak van die kinders. Baie vrouens
het hulle seksuele self gevind en begin daarmee waag. Mans kom baie meer in
kontak met hulle emosionele en sagte kant.
In my berading is hierdie geslagsrolverdeling een van die onderliggende oorsake
vir so baie van die paartjies se ongeluk en frustrasies.
Want met elke rol verdeling, kom daar ‘n gekoppelde identiteit. As ek, as man, glo dat die man die hoof broodwinner moet wees, dan sal my manlike identiteit gekoppel wees aan die kwessie of ek die hoof broodwinner is of nie. As ek is, dan sal my manlike identiteit (ego) positief wees. En as my ego-identiteit positief is, sal die meeste van my interaksies met mense rondom my ook positief wees. En vir solank my ego-identiteit positief is, sal dit vir maklik wees om ‘n goeie man, goeie pa en goeie mens te wees.
Maar wat gebeur as ek nie meer die hoof broodwinner is nie? Dit breek die skakel tussen die geslagsrol waarmee ek myself toeskryf en my huidige situasie. Dus is die enigste gevolgtrekking vir my om te maak, dat ek nie “man” genoeg is nie. Hierdie verander vinnig in ‘n negatiewe ego-identiteit en maak dit vir my baie moeilik om ‘n goeie man, pa of mens te wees. Ek gaan in my veg of vlug reaksie in, en pasop vir wie ook al in my pad kom.
Wat dinge nog erger maak is die feit dat my vrou nou ook moet begin werk, dalk selfs meer geld as ek begin maak. Nie net het die rolle in ons huwelik verander nie, maar saam met dit ook die “power-balance”.
Die “power-balance”of magsbalans in ‘n verhouding kan bes beskryf word, met daai oomblik in ‘n geveg waar jy ‘n sin uiter soos “maar ek bring al die geld in die huwelik”, “jy is nooit hier nie, dis ek wat dag in en dag uit verantwoordelik is vir die kinders”, “jy is nooit lus vir seks nie, ek moet altyd smeek”.
Hierdie sinne wil ons nooit regtig hardop sê nie, maar in ‘n geveg kom die magsbalans van enige huwelik na vore. Die magsbalans bestaan in elke verhouding en geen verhouding kan funksioneer sonder ‘n magsbalans nie. Die kuns is om bewus te wees van julle unieke huwelik magsbalans en te besef waaraan dit gekoppel is. Dit is gekoppel aan die rolle wat samelewing en tradisie aan die man en aan die vrou gebind het. En as jy glo dat ons nie aan daardie geslagsrolle mag verander nie, gaan jy sukkel in 2020, as dinge nie vir jou sosiaal-ekonomies uitwerk soos wat dit vir jou oupagrootjie uitgewerk het nie.
Besef dat in ‘n gelyke huwelik, kan, en selfs moet, daar ruimte wees vir die geslagsrolle om te skuif en selfs met tye om te ruil. Dit is eers dan dat ons unieke magsbalans ons kan help tot ‘n suksesvolle en genotvolle huwelik in 2020.
Ons sal hierdie tema van geslagsrolle oor die volgende paar artikels verder ondersoek. Vir nou, probeer om julle unieke verhouding se magsbalans te identifiseer.
As jy voel julle het berading nodig oor hierdie tema, maak gerus ‘n afspraak by my hier: www.gesondeseks.co.za/berading
As jy voel jy wil meer selfhelp aanlyn kursusse doen, skryf gerus in op een van ons 3 aanlyn pakkette hier: www.gesondeseks.co.za/mentorskap