Gesonde Seks Blog

Blog oor Gesonde Seksualiteit

  • Home
    Home This is where you can find all the blog posts throughout the site.
  • Categories
    Categories Displays a list of categories from this blog.
  • Tags
    Tags Displays a list of tags that have been used in the blog.
  • Bloggers
    Bloggers Search for your favorite blogger from this site.
  • Login
    Login Login form

Intiem Tydskrif

1797
vroulike kant


Elke man het ʼn vroulikekant aan hom. Sommige s’n is net meer dormant as ander, waar ander mans s’n heeltemal oor ontwikkel is en dit voel asof jy hom net wil klap! Die waarheid is om ʼn gesonde gebalanseerde man te wees, MOET jy aandag aan jou vroulikekant gee en hier’s hoe...

 

 

Die uiterlike skoonheid-kant

Die vrou is beskou as die mooier geslag, maar is dit omdat God die vrou mooier gemaak het of is dit omdat die vrou meer tyd voor die spieël spandeer?

Daar is niks fyntjies aan ʼn man wat ingestel is op sy eie voorkoms nie. Die idee dat mans rof en onbeskof moet wees om man te wees, is al lankal nie meer die algemene aanvaarde stereotiepe nie. Maar self versorging is nie iets was natuurlik na baie mans kom nie. So hier is so paar wenke hoe jy meer met jou uiterlike skoonheid-kant mee aanraking kan kom.

  1. Basiese higiëne – Soggens en saans tandeborsel, skeer, deodorant, eenmaal per dag stort of bad en skoonklere elke dag aantrek. (En om te ruik aan gister se onderbroek om te sien of jy dit weer kan aan trek, kwalifiseer nie as skoonklere nie!)

  2. ManiPedi – Vir die meeste mans klink dit soos daardie sexy sektariese van James Bond, maar in werklikheid is dit maar net om jou hande en voete te versorg. Hou jou naels kort geknip (moenie byt of skeer nie), en smeer maar tog so af en toe ʼn bietjie room sodat dit nie vir jou vrou soos skuurpapier voel wanneer jy aan haar vat nie.


 

Die innerlike emosionele-kant.

Natuurlik is dit nie net die uiterlike skoonheid van die vrou wat haar so aantreklik maak nie, dit is ook haar innerlike skoonheid. Met ander woorde haar emosionele-kant. Dit het dalk gewerk vir vorige generasies mans om soos onemosionele buffels op te tree, maar vandag se vrou verwag meer van hulle mans. Hulle verlang na ʼn man wat nie bang is om sy emosies te wys nie. (En ek praat nie hier van die tipe emosies wat die man kry wanneer hy kwaad raak vir sy vrou nie.)

So hier is so paar emosies wat jy met meer trots met jou vrou kan deel.

  1. Blydskap – Ek sal graag wil glo dat die meeste mans nog gelukkig is met hul keuse van huweliksmaat. In daardie geval moet ons meer ons blydskap en geluk aan ons vrouens verkondig. “Liefie, ek is so bly jy is myne.” “Skatlam, my hart sing van pure vreugde dat jy my lewe verryk.”(Of as jy ʼn beginner is “Susan [Naam van vrou] ek is tevrede”)

  2. Bang – Tensy jou naam Clark Kent is, is dit veilig om te vermoed jy’s bang vir iets. Baie maal probeer ons so sterk voorkom dat ons in ons binneste opgevreet word met vrese en stres. Wees man genoeg en praat met jou vrou oor dit wat jou bang maak. (En ek praat nie hier van bang vir inbraak of toekoms van die land nie.) Deel jou emosionele vrese met jou vrou. “Liefie, ek is bang dat ek nie my werk gaan behou en dan nie vir ons genoeg kan voorsien nie.” “Skatlam, ek is bang ek is nie goed genoeg vir jou nie.” (Of as jy ʼn beginner is “Susan [naam van vrou] ek is bekommerd.”]

  3. Hartseer – Hierdie is die emosie wat die meeste mans die meeste probeer wegsteek. Want hierdie emosie word meeste kere gedemonstreer deur trane. En ons almal was van jonks geleer, mans huil nie! Een van die kortste verse in die Bybel is Johannes 11:35 “Jesus het gehuil.” Want met trane is woorde nie nodig nie. (Of as jy ʼn beginner is. Gaan sny ʼn ui!)


Eintlik is dit maar net menswees om in aanraking te kom met jou vroulike-kant.

 

 

Sukkel jy om weg te doen met al die macho man-wees dinge? Is jy die beste man wie jy kan wees vir jou vrou en kinders? Lees ‘n bietjie meer oor ons e-Kursus spesifiek ontwikkel vir mans wat beter mans wil wees. http://www.gesondeseks.co.za/index.php/e-kursusse/31-seuntjie-tot-man
Continue reading
1789
mens-masks

Elke man het ʼn manne-kring nodig, maar ongelukkig is dit een van die eerste dinge wat moet uit, wanneer daar ʼn vrou in die man se lewe kom.

Die broodnodige ‘manne-kring’

Die man soos die vrou is ʼn sosiale mens en het die interaksie en aanvaarding nodig van jou ‘peers’. Ons het ʼn valse prentjie en idee van wat ʼn huwelik veronderstel is om te wees. Jou huweliksmaat kan nie aan al jou sosiale behoeftes voldoen nie, maak nie saak hoe lief julle vir mekaar is nie. Die man het nodig om in ʼn kring van ander mans te kan staan en sy kop hoog hou. Die man se selfbeeld, is die steenpilaar waarop sy hele manlikheid, lewe en familie rus. En een van die vinnigste maniere hoe ons ons selfbeeld bepaal is deur om te kyk en vergelyk. (Vrouens doen dit ook!)

Dit is so dat sommige mans meer sosiaal is as ander, maar die werklikheid van die saak is, ons almal het ʼn manne-kring nodig.

Hoe vind jy ʼn goeie manne-kring?

Daar is so paar riglyne wat ons hier kan help.

  1. Verstaan dat die groep jou gaan beïnvloed meer as wat jy die groep gaan beïnvloed.

  2. Kyk na die leier van die groep? Hoe lyk sy huwelik?

  3. Dra hierdie manne-kring of vriende jou vrou se goedkeuring?

  4. Is die aktiwieteite wat julle saam geniet heilsaam?


Wanneer jy agterkom dat die manne-kring wat jy tans in staan nie voordelig is vir jou nie, moenie net alle sosiale aktiwiteite wegskuif en jouself oortuig dat jy beter is op jou eie nie. Nee, ons het klaar gesien ons het almal ʼn manne-kring nodig.

Die kerk is altyd ʼn goeie plek om te begin soek vir ʼn nuwe manne-kring. Mans van julle selgroep kan reël om saam sport te kyk en ʼn braai te geniet. As jy sportief is, vind ʼn sportklub of begin jou eie klein tennis, muurbal of gym manne-kring.

Beïnvloed jy die kring of die kring jou?

Wat soveel maal gebeur is dat hierdie sosiale noodsaaklikheid vir die man vinnig sy ondergang beteken. Die groep manne waarmee jy jouself mee assosieer, of dit nou werkskolegas is, of ou skoolvriende, het ʼn groter invloed op jou as wat jy dalk op hulle mag hê.

En omdat die nommer een behoefte van die mens is om aanvaar te word en nie om ʼn leier te wees nie, is die kanse dat jy dinge gaan doen om ‘in’ te wees by die groep groter as om by jou eie morele kompas te bly.

Wanneer ek mans sien in my spreekkamer dan is een van my eerste vrae nadat ons gesels het oor ‘mamma en pappa’ natuurlik, “Vertel vir my van jou vriende?” Die wortel oorsaak van die meeste mans se gedragsprobleme lê gewoonlik by die vriendekring.

Die Bybel praat tog hiervan in Psalm 1:1 “Gelukkig is die mens wat nie loop volgens goddeloses, of staan op die pad van sondaars of sit in die vergadering van spotters nie.” Let op die progressie van loop, staan en sit. Eers ‘loop’ jy saam met pelle en doen dinge wat jul saam geniet. Later ‘staan’ jy stil en deel grappies en inligting. Die ‘sit’ praat van sienswyses wat na jou toe deurdring en dat jy soos die groep begin glo.  ʼn Groep het neiging om jou sterker en sterker te beïnvloed.

So maak seker die manne-kring waarin jy loop, staan of sit, een is wat jou lewe positief beïnvloed en nie net daar is om ʼn sekere leemte van aanvaarding te vervul nie.

Wonder jy ooit oor die manne genoem in die Bybel? Abraham, Dawid, Salomo? Het hulle ooit gesukkel met hulle seksualiteit en wat het die Bybel daaroor om te sê? - Ja, maak seker jy lees my boek "Wat Adam my van seks geleer het". Om meer te lees gaan na http://www.gesondeseks.co.za/index.php/boeke 
Continue reading
2067

Love Pics


Die man se dryf en sosiale druk om vir sy vrou en gesin finansieel te sorg, forseer baie mans om meer tyd by hulle werk te spandeer as wat hulle dalk sou wou.


Met al hierdie ekstra tyd aan werk bestee, sal dit hartseer wees as die man nie van hierdie besigheidsbeginsels deurtrek na sy huwelik toe nie. So hier is die top 5 eienskappe van ’n suksesvolle CEO.

1.     Kry ’n duidelik visie

Mans droom van hulle wittebrood en die vrou van haar troudag, maar bitter min het ’n lang termyn visie vir hulle huwelik. Enige goeie CEO het ’n duidelik idee waarheen hy sy besigheid/huwelik heen wil stuur. Sukses gebeur nie net vanself nie. Dit word gemaak. Met ’n duidelik visie waar jy jou huwelik sien in 5 jaar, 10 jaar en met jul aftrede, gaan julle belangrike besluite vandag kan neem.

Sonder ’n visie gaan jy eendag wakker word langs ’n vrou wat jy jou hele lewe lank ken, maar sy voel soos ’n vreemdeling. Daar is geen intimiteit, passie of eenheid meer tussen julle nie. Want sonder ’n duidelik visie vir julle huwelik, is julle elkeen stadig maar seker besig om doelloos op die lewens-oseaan te dopper. Oorgegee aan die elemente wat julle uitmekaar wil skeur. Maar ’n duidelik visie help julle om saam deur die moeilike tye te gaan.

2.     Makro-bestuur

Die uitdaging vir enige goeie CEO is om nie te wil “micro manage” die hele tyd nie. “As jy iets gedoen wil kry, doen dit jouself” is iets wat nie werk in ’n huwelik nie. Wanneer die CEO ’n taak aan iemand in die besigheid toevertrou het, moet hy nie die hele tyd in meng, oor die persoon se skouer loer en inspring om dit op die ou end self te doen nie. Sulke tiepe gedag roof die werker van enige selfvertroue en motivering vir die toekoms.

Net so in enige huwelik. As die man die take van begroting, inkopies, binnehuis versiering, ens., aan die vrou mee toevertrou het, omdat haar talente en bekwaamheid haar die regte persoon maak vir die werk, dan moet die man haar los om die taak te voltooi.

Vertrou jou vrou genoeg om nie die hele tyd oor te neem nie.

3.     Bly op hoogte van die industrie standaarde

Net omdat ’n CEO vandag “top of his game” is, verseker dit hom nie daardie posisie in die toekoms nie. Die besigheidswêreld is een wat konstant verander en ontwikkel, en as die CEO nie op hoogte bly van die industrie tendense nie, sal hy baie vinnig homself sonder ’n werk vind.

Die huwelik is ook so. Vandag is jy jou vrou se Casanova, môre slaap jy in die hondehok.

Baie mans is skuldig om nie aan te hou belê in hulle huwelik nie. Vlerksleep is nie net iets wat die man moet doen om die vrou genoeg te beïndruk om ja te sê om met hom te trou nie, maar dit is iets wat hy elke oomblik in sy huwelik moet aanhou om aan aandag te gee.

4.     Ontwikkel ’n sterk ondersteuningspan

Sodra enige CEO begin dink dat hy die kat se snor is en dat alle sukses hom toekom, kan jy maar gewaarborg wees dat die mense waarmee hy werk baie sterk negatiewe gevoelens teenoor hom het.

’n Goeie CEO verstaan dat dit meer as net die baas neem om ’n suksesvolle maatskappy te bestuur, dit neem ’n sterk ondersteuningspan. Die oomblik wanneer ’n man voel dat hy die belangrikste persoon is in die huwelik en dat dit sy manier of geen manier van doen is nie, kan ek jou verseker daar is ’n hoogs ongewaardeerde vrou agter hom.

God het nie die man gemaak om oor sy vrou te heers soos ’n koning oor sy slawe nie, maar eerder hom Koning van die huis gemaak om saam met sy Koningin te heers.

5.     Goeie kliënte diens

Sonder gelukkige kliënte sal enige maatskappy sukkel om die CEO se pos te regverdig. Die CEO is nie daar om homself te verryk nie, maar is daar om iets vir iemand te beteken buite homself. Presies so in ’n huwelik. Die kliënte van enige huwelik is die mense buite jou in die huwelik. Die man moet sy vrou en sy kinders se behoeftes, begeertes en bekommernisse bo sy eie plaas as hy sy pos as CEO van die huwelik wil behou.

Neem die ywer wat jy voel in jou besigheid en plaas dit ook in jou huwelik sodat jy in albei ‘n uitstekende besturende direkteur is!

 

Download die volledige e-boek “Wees die CEO in jou Huwelik” vanaf www.gesondeseks.co.za

©Gesonde Seks, Timothy Kieswetter 2013
Continue reading
1715
sturgis_womens_tank_top_hot_sexy_lady_t_shirt-p235526930834559116qzrf_400

Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

In my Bybel is hierdie vers (Matteus 5:28) in rooi ink en nee dit is nie omdat ek dit probeer uitkrap het nie! Hierdie het Jesus in sy eie woorde gespreek en daarom moet ons regop sit en luister.

Kyk en bekeer!

Hoe dit vir my oorgekom het soos wat ek groot geword het in die kerk is dat jy moet kyk en bekeer. Dit was in my ingedril dat jy alle meisie soos jou suster moet behandel. (1Timoteos 5:1-2) Hierdie was ’n probleem want ek het al my suster se vriendinne anderste gesien as ek my suster gesien het.

Daar word onrealisties verwag dat ’n man se seksualiteit afgeskakel moet wees tot hy trou en dan wanneer hy getroud is behoort sy seksualiteit net aan sy vrou. Maar in werklikheid behoort elke persoon se seksualiteit aan hom of haarself. En sonder daardie kyk en begeer, sou geen man enige vrou gevra het om te trou nie.

Die hele kyk en bekeer boodskap is een wat die man skuldig laat voel oor sy seksualiteit, om hom te herinner dat hy net een ding op die brein het en om die punt huis toe te bring dat seksualiteit is eintlik iets vuils, lelik en verkeerd. Iets wat ons as Christen-mans moet van wegdraai en onsself van moet bekeer.

As die man gemaak is om visueel gestimuleer te word, hoekom dan is dit verkeerd om deur die visuele gestimuleer te word?

Kyk en begeer?

Kyk en begeer is normaal. Dit is ’n teken dat jy ’n gesonde volbloed man is. Jesus tydens Sy bergrede (Matteus 5) wys die mens na sy tekortkominge en maak dit baie duidelik dat sonder God se genade, sal niemand perfek kan wees nie. Jesus se bedoeling is nie om teen die man se seksualiteit te praat nie. Hy gebruik egbreuk en begeer as ’n voorbeeld om die mens op sy swakheid uit te wys. Begeer is ’n normale en gesonde deel van elke man se seksuele lewe. ’n Deel van sy menswees wat God vir hom gegee het. Maar dit is wanneer die man nie sy kyk en begeer kan beheer nie dat dit problematies begin word. Dit is amper asof die eerste kyk is onvermeidelik, maar die tweede kyk is ’n toets van jou karakter.

Kyk en bestuur

Die gevaar om skuldig te voel oor die begeer gedeelte en dit dan te probeer afskakel, is dat jy met jou seksuele DNA begin peuter wat baie groter gevolge vir jou gaan inhou. Hoe verder jy jou seksualiteit onderdruk, hoe groter gaan die uitval daarvan wees. Kom ons gebruik Koning Dawid as voorbeeld. Hy het vir Batseba gekyk, haar begeer en volgens my verstaan van seksualiteit en die Woord is dat dit alles nog ’n teken van ’n man met 20/20 visie is. Daarna het hy ondersoek gaan instel om te hoor wie sy was. Hier begin dit ’n bietjie dodgy raak, want hy maak planne om sy kyk en begeer na ’n ander vlak te neem. Hy het geen rede gehad om dit te doen nie, want op daardie stadium het hy meer as 3 ander vrouens alreeds gehad om aan sy seksuele behoeftes te voorsien.

Nadat hy uitgevind het sy is ’n getroude vrou, het hy nie homself daaraan gesteur nie en het ’n one night stand gehad met haar. Met ander woorde: hy het haar gebruik vir sy eie plesier. Hy het nie belanggestel in haar as mens nie. Hy wou nie met haar trou nie. Hy wou net sy eie plesier kielie en die hel met die res. Van daarvandaan was dit net afdraande vir hom waar hy geëindig het om moord te pleeg.

Dawid se probleem was nie dat hy Batseba aanloklik gevind het nie. Sy probleem was dat hy nie sy seksualiteit gesond kon bestuur nie. Seksuele sonde is wanneer jy net oor jouself omgee. En wat Jesus in Matteus 5 ook noem is dat dit beter is vir die man om sy oog uit te pluk of sy hand af te kap. Met ander woorde, die man moet soms sy eie begeertes bestuur in so ’n manier dat dit van homself gaan kos, byvoorbeeld soos Josef. Josef het begeertes gehad vir Potifar se vrou, maar hy het dit so bestuur dat hy gesê het hy sal nie teen sy God en sy baas “Potifar” kan sondig nie.

Begeer op sy eie is nie verkeerd nie, maar dit is waarna toe jy dit bestuur wat jou in die sop gaan laat beland.

 

Wonder jy ooit oor die manne genoem in die Bybel? Abraham, Dawid, Salomo? Het hulle ooit gesukkel met hulle seksualiteit en wat het die Bybel daaroor om te sê? - Ja, maak seker jy lees my boek "Wat Adam my van seks geleer het". Om meer te lees gaan na http://www.gesondeseks.co.za/index.php/boeke 

©Gesonde Seks, Timothy Kieswetter 2013
Continue reading
3318
Young couple in their kitchen

Daar is al baie gespekuleer oor wat alles ’n romantiese ete behels, watse aphrodisiac kosse om voor te berei tot die hoeveelheid gegeurde kandelare om op te steek, maar as jy dit reg doen...

... sal dit nie saak maak of jy vir haar gebrande toast of ’n driegang maaltyd opdis nie. Dit sal eindig met haar wat vir jou dankie sê nes jy daarvan hou.

Die meeste mans word afgesit van die romantiese ete idee omdat hulle nie hulleself as ’n goeie kok beskou nie. Maar hier is die geheim agter elke romantiese ete - Dit is nie wat jy vir haar doen nie, maar wat jy raaksien wat sy vir jou elke dag doen. Die romantiese ete is ’n goeie aand uit en ’n geliefde intieme aand wat dalk nog vir ’n dag of twee jou vrou op wolk nege gaan hou, maar na ’n week van die normale dag tot dag vereistes, is daar niks meer wat oorbly van die romantiese ete nie. Wat sal gebeur as jy nie net ’n goeie romantiese ete vir haar opdis nie, maar ook vir haar iets gee wat sy elke dag in haar normale lewe aan jou laat dink en warm gevoelens vir jou koester?

Dit is nie wat jy doen nie, maar wat jy raaksien wat sy vir jou doen!

Saam met enige romantiese ete wat jy haar mee bederf, moet jy dit duidelik maak dat hierdie is maar net ’n klein teken van jou waardering vir die etes wat sy elke dag vir jou en die gesin maak. Komplimenteer haar op die dinge wat jy al van self sprekend geneem het, soos om elke aand aandete te maak. Koppel hierdie gevoel van die romantiese ete aan die normale elke dag roetine en jou romantiese aand voordele sal baie langer geniet kan word.

Ontbyt in die bed en seks in die kombuis.

Hoe meer onverwags die ete, hoe meer romantiese punte is daar vir jou. So moenie te veel verwag om haar te beïndruk om iets spesiaals te doen op haar verjaarsdag, Valentynsdag of op julle huweliksherdenking nie. Dit word van jou verwag! Maar as jy sommer maar net en vir geen rede vir haar kos in die bed bring, mag jy dalk net seks in die kombuis kry. Breek weg van die normale met kos en met seks. ’n Gesonde huwelik is een waar daar nog misterie aan gekoppel is. Moenie toelaat dat julle in die boring groef verval nie.

Ontbyt in die bed...

Staan ’n bietjie vroeër op as sy en gaan sit die ketel en oond aan. In plaas van die normale bacon en eiers, maak vir haar ’n bacon-eier-muffin. Haal ’n muffin-tray uit en smeer botter of spray nonstick. Neem ’n gewone sny van brood en sny die kante af. Plaas ’n gesnyde brood in elke muffin houer en druk dit af dat dit die onderkant van ’n muffin vorm. Breek een eier in die middel van elke “brood-muffin”. Jy kan dit ook opvul met tamaties, groenpeper, mushrooms en bacon stukkies. Top dit af met gerasperde kaas oor die top en sit dit in die oond. Gee so paar minute vir die eier om te bak om die “brood-muffin” te vul. Bedien dit saam met koffie of tee vir jou vrou in die bed, met die boodskap, dat hierdie maar net ’n klein blyk van waardering is vir alles wat sy elke dag vir jou doen.

Seks in die kombuis...

Die beste manier om enige ete romanties te maak is om dit saam te maak. Dit is nou al ou nuus dat seks vir ’n vrou begin in die kombuis. Of altans enige ander plek as in die slaapkamer. ’n Vrou moet nie net voel dit is nog ’n huweliksplig wat sy moet verrig voordat sy moet gaan slaap nie. Ruim die huis op, maak aandete, sit kinder in die bed en plesier manlief in die slaapkamer! Gee vir haar die boodskap dat jy saam met haar in die huwelik is as ’n gelyke. Wanneer jy weer jou vrou sien voor die stoof staan en kos maak, moet jy dadelik terug dink aan die fliek “Ghost”, waar Patrick Swayze agter Demi Moore kom staan en saam met haar die pottery doen. Seks in die kombuis is nie om regtig in die kombuis seks te hê nie, maar om die alledaagse van aandete te maak, ’n romantiese twist te gee. Maak seker dat wortels sny en vleis braai nog nooit so eroties was nie!

 

Gebeur dit met jou dat jy so graag goeie en nuwe seks met jou man wil hê, maar jy sukkel om te dink aan kreatiewe seks idees? Wel, moenie langer bekommer nie. Bestel my boek “Ontbyt in die bed en Seks in die kombuis” om vir die volgende jaar elke week ‘n nuwe vars en kreatiewe Gesonde Seks Huiswerk op jou man uit te oefen.

Om jou boek nou te bestel besoek: http://www.gesondeseks.co.za/index.php/boeke 
Continue reading

Gratis Eboek

Het jy al jou GRATIS e-Boek gedownload?


Jy kan die gratis ebook kry vol wenke en idees om die CEO van jou Huwelike te wees. Lees meer hier.

Twitter Feed

Kontak Ons

Adres:

698 Picassostraat, Moreletapark, Pretoria

Beradings ure:

Ma - Vr: 9:00 - 16:00

Telefoon:

Tel: 086 111 2329

Sel: 082 565 7373

Faks: 086 224 5948

Bly in Kontak

Volg ons op Twitter en Facebook.

Top