Gesonde Seks Blog

Blog oor Gesonde Seksualiteit

  • Home
    Home This is where you can find all the blog posts throughout the site.
  • Categories
    Categories Displays a list of categories from this blog.
  • Tags
    Tags Displays a list of tags that have been used in the blog.
  • Bloggers
    Bloggers Search for your favorite blogger from this site.
  • Login
    Login Login form
2189
janet-en-tim

Vandag het my vrou, Janet, my baie trots gemaak. Sy het haar grootste Seks Klets Dames oggend gehad en dit het baie goed gegaan. Sy het sonder  bloos of skroom voor 50 vrouens gestaan en passievol gesels oor Gesonde Seks. Janet het werklik my passie, roeping, loopbaan haar eie gemaak. (Aan die eenkant voel ek ’n bietjie bedreig hieroor, maar dit sal moet oorstaan tot ’n volgende blog post.)

So 10 jaar gelede toe ek Janet ontmoet het sou ek of enige iemand wat haar geken het, nooit kon raai dat sy in die seks industrie sou gaan nie. Ek laat dit seker erger klink as wat dit is. Seks industrie klink so bietjie doggy. Presies wat een pastoor vir my gesê het heel in die begin van my seksuologiese studies. “Timothy, miskien moet jy nie jouself as ’n seksuoloog bemark nie, maar eerder as ’n huweliksberader.”

Nee, dankie, dit so nooit vir my werk nie. Ek wil die seks fix. Daar is genoeg ander beraders wat fokus op die vertroue, kommunikasie, familie etikette, ens. Ek sal fokus op die seks dankie. Gesonde Seks is my werk.

En nou het my vrou haarself ook geïdentifiseer as ’n sekswerker.

Terug tot my en Janet se eerste ontmoeting. Ons het van die begin af lekker gesels en dit was nie eers 10 minute van small talk dat ons  begin het om vir mekaar ons liefdes teorieë te deel. Ons al twee was net 19 jaar oud gewees maar was gesoute filosowe.

Janet begin om die vier liefdes; Agape, Familie, Phileo en Eros te simboliseer met ’n kruis. Die boonste balk van die kruis wat hemel toe wys verteenwoordig, Agape-liefde. God se liefde vir ons en sy beskerming oor die verhouding. Die twee dwars balke van die kruis is Familie en Phileo (vriendskap) liefde. En die deel van die kruis wat in die grond begrawe word simboliseer Eros liefde. (Erotiese liefde).

’n Paal wat in ’n gat geplaas word. Ek dog dit was ’n baie skerp simboliek vir wat seks was. Maar dit is nie presies hoe sy dit toe bedoel het nie. Janet, soos enige goeie Christen het seks gesien as iets wat deel van die vlees is en begrawe moet word en wat nie op dieselfde heilige vlak van die ander liefdes kon kompeteer nie. Seks was toleratedmaar verseker nie celebrated nie.

Dit was na hierdie verduideliking waar ek vir haar gesê het: “As dit is hoe jy oor seks dink, kry ek jou man eendag baie jammer.”

Ek het nie besef dat sy dit as ’n pickup line so sien nie, maar sy sweer toe ek dit sê het daar iets in haar gees gespring waar sy gevoel het ek gaan haar trou man wees. In retrospek dink nie dit was iets in haar gees wat gespring het nie, maar wel haar vlees.

Want in my liefdes teorie het ek ook die 4 algemene liefdes, maar inplaas van om die Eros weg te steek vir niemand om te sien nie, speel Eros liefde ’n baie belangrike deel van my huisie gelykenis. Familie liefde vorm die fondasie van enige verhouding. Daarna word die mure gebou en simboliseer die vriendskap tussen die twee. Die dak is Agape liefde, wat die commitment verteenwoordig. En heel bo op die dag, steek Eros sy kop uit vir almal om te sien in die vorm van die erect skoorsteen. Waar daar ’n rookie is, moet daar ’n vuurtjie wees. Eros is nie net ’n skoorsteen bo op die dak nie, maar ’n kaggel onder in die huis. Dit is Eros wat die verhouding se atmosfeer bepaal en die huis (verhouding) ’n  lekker plek maak om in te lewe.

Daar was iets daardie aand wat Janet opgewonde gemaak het en my uitgedaag het, maar wat ook al dit was, dit het ons paaie saam gevoeg in Gesonde Seks. En nou kan ek met ’n glimlag op my gesig erken dat ek was verkeerd. “Janet, ek kry jou man glad nie jammer nie.”
Continue reading
2255
Janet Kieswetter, sou jy ooit raai dat iemand wat gevra het om te trou via sms, sal ooit genoeg leer oor romanse, liefde, emosies en seksualiteit om ʼn Gesonde Seks blad te run? So om in daardie gees te bly wil ek graag my 10 huweliksherdenking beloftes hernu via Facebook. (Sien ek leer vinnig.)

Presies 10 jaar gelede het ek voor so 100+ mense gestaan en bewe in ʼn baie te groot swart pak buite in die son.  Daar is nie genoeg EGO in die wêreld om daardie nerves te vermom het nie. Maar toe jy fashionably late daar opgedaag het, het alles tot ruste gekom. Ek het ophou bewe. My bors het geswel op die swart pak te pas. (Sjoe, ek moes mooi konsentreer op my spelling daar.) Die nerves het dadelik verdwyn. Die son het stil gaan staan. Die wind het opgehou waai. Die 100+ mense het weggegaan. Jou pa langs jou het ek uitgeblok. Die gedagtes en planne vir later die aand het ek op ys gesit. My gebed het ek as “Amen” aanvaar.

Want daar staan my lewe. My begeerte. My toekoms. My lover. My versorger van my kinders-to-come. My ander hele. (Ek glo nie daaraan om jou beter helfte te vind nie, want jy moet jou eie beste hele wees.)

Jy het gedog jy trou ʼn jeugpastoor. Maar ek het altyd geweet met jou as my vrou gaan ek eendag ʼn meester graad kry in seksuologie.

Liefie, die res van wat op my hart is, sal ek vanaand saggies in jou oor fluister.

Net soos 10 jaar gelede, voor daardie 100+ mense, familie, vriende, so een of twee bekende persoonlikhede en voor God, maak ek nou weer daardie selfde belofte voor -+ 30 000 mense, waar ek en jy die soort van bekende persoonlikhede is.

“Timothy Paul Kieswetter, nou dat u weet dat God die huwelik ingestel het en wat Hy u daarin beveel, getuig u hier voor God en almal wat teenwoordig is (like, tweet, of volg), dat dit u opregte voorneme is om so in hierdie staat te lewe, en begeer u dat u huwelik nou gesluit en bevestig sal word?”

“Ja.”

“Verklaar u, Timothy Kieswetter, dat, sover u weet, daar regtens geen beletsel is teen u voorgenome huwelik met Janet Ann Kieswetter hier teenwoordig nie en dat u almal hier teenwoordig roep  (om te like en share) om getuie te wees dat u Janet Kieswetter tot u wettige vrou neem?

“Ja.”

“Mag ons Here God die voorneme wat Hy u gegee het, bekragtig, en mag die begin van u huwelik wees in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het! (en Gesonde Seks)

Timothy, u het hier voor God en Facebook en Twitter almal teenwoordig verklaar dat u Janet Kieswetter steeds as u wettige vrou neem.  Beloof u dat u haar nooit sal verlaat nie, dat u haar sal liefhê en getrou sal onderhou soos 'n getroue en Godvresende man aan sy vrou verskuldig is?  Beloof u verder dat u heilig met haar sal lewe en haar in alles getrou sal bly ooreenkomstig die uitspraak van die heilige evangelie?

Wat is u antwoord?”

“Ja.”

“Ek verklaar nou dat Timothy Kieswetter en Janet Kieswetter hier teenwoordig regtens steeds getroud is en Gesonde Seks het.  Mag die Vader van alle barmhartigheid, wat u deur sy genade tot hierdie huwelik geroep het, u met opregte liefde en trou verbind en u sy seën gee!  Amen.”
Continue reading
4213
Want jy is 'n Skrywer en kan toor met woorde. Hoeveel keer het jy my hart al gesmelt met jou liefdesdig?

Jy is ʼn Berader en verstaan hoe dink 'n vrou. Jy begryp so goed wat my ontstel en wat my laat goed voel en sê altyd die regte ding.

Ek love dat jy Navorser is en heeltyd honger is vir nuwe inligting. Ek voel jou belangstelling in wat ek het om te vertel en jy deel graag jou nuutste boek, teorie, preek, kursus, gedagte, droom, sienswyse met my. Ons hardloop nooit uit goed om oor te praat nie. Die lewe bly 'intriguing' saam met jou, altyd vars!

In ʼn liefdesbrief, sal jy die Here in bring op ʼn manier wat jou diep liefde vir Hom wys. Min mense weet hoe baie lief het jy die Here, maar ek doen. En dit trek my hart na Hom toe ook.

En die komediant in jou vermaak my al vir jare, mense kan maar uitsien na jou verhoogvertoning!

Jy is die CEO van ʼn besigheid en ons huwelik. Jy’s ʼn life coach vir baie maar eerste vir my. Jy is DIE seksuoloog (ongeag van wat ander sê) om te raadpleeg oor als seksueel en ek trek voordele van die rol natuurlik ;)

Jy is liefdevolle Pappa vir ons drie girls- ek love om te sien hoe hulle op jou skoot klim, of op jou rug of op jou voete staan. Jy is hulle held en Prins.

En omdat jy SO baie rolle so goed vertolk, voel jy soms jy pas nie iewers in nie.
Jy is ʼn Verkleurmannetjie wat kleur verander met elke nuwe agtergrond. Jy pas aan waar jy geplaas word. Jy 'adapt' so ongelooflik goed!

Jy is ʼn Verkleurmannetjie.

Jy is my VerkleurMAN.

Lief jou vir ewig
Continue reading
2356
Ek probeer nie sulke emosionele vrae post nie, want dit ontaard omtrent elke keer in ‘n bakleiery en niemand weet eers mee waaroor anoniem bekommerd is nie. Maar ek het vandag besluit om nie net hierdie te post nie maar om ook ietsie daarop te antwoord, en vir ons ietsie te leer oor emosies.

Eerstens weer anoniem se vraag:

“Timothy en Janet help my asb ek is besig om van my kop af te raak. My 4jarige dogtertjie het gister by ‘n maatjie gaan speel en toe sy by die huis kom en klaar gebad het, sien ek haar private deeltjie is baie rooi. Ek vra haar toe hoekom is dit so rooi en sy se toe die maatjie het dit gelek en die maatjie het gesê sy moet ook hare lek. Wat doen ek nou? Eks radeloos help my asb”

Nou hierdie anoniem vraag is een wat elke liewe een van ons se emosies gaan op hol jaag. Emosies in dit self is wonderlike goed. Dit maak ons mens. Dit laat ons lewendig voel. Dit help ons om simpatie en empatie vir ons medemens te gee.

Maar wat emosies nie baie goed in is nie, is om te dink, redeneer, advies te gee en by die feite te bly. Emosies is iets wat gemanipuleer word deur jou eie vrese en daarom sal emosies altyd subjektief wees tot die persoon met die emosie. Jy gaan dadelik die situasie, die feit, die gebeurtenis, rondom jouself maak en dan as ons nie oppas nie, raak die persoon vir wie ons simpatie en empatie voor moes gee as gevolg van die emosie wat ons vir daardie persoon voel, is juis die oorsaak hoekom ons op die persoon draai, en haar of hom begin aanval.

Dit verduidelik hoekom daar so baie comments is wat aanvallend draai, wanneer anoniem ‘n emosionele vraag vrae.

Baie ander mense het aangeneem dat anoniem haar kind laat oorslaap het?

‘n Feit wat nie daar is nie. Maar ons emosies is so sterk dat ons oortuig is van dinge.

Ek deel hierdie maar net met julle om iets uit te wys wat ek nie net elke dag op Facebook sien nie, maar ook by die kliënte wat my kom sien vir huweliksberading.

Ons sukkel om verby ons eie emosies te kyk en die persoon met die probleem raak te sien en eintlik te help.

So vra gou vir jouself hierdie vraag af: Is jy geneig om ‘n gesprek in ‘n bakleiery te neem wat jou bloeddruk deur die dak stoot? Dan is dit veilig om te besef dat jy nie in beheer is van jou emosies nie, en dit veroorsaak dat jy nooit die situasie sal kan baas raak nie. Daarom is dit juis nodig om na ‘n berader of ‘n 3de persoon te gaan net om jou te help om verby jou eie emosies te kom.

 

Okay, genoeg gepraat oor emosies en stuff.

Kom ek gee vir jou ons opinie op anoniem se vraag.

 

Wat met jou kind gebeur het sal ek nie beskryf as iets wat haar noodwendig seksuele gaan traumatiseer nie.

Natuurlik voel jy getraumatiseerd, want dis jou kind! En ons is bewus van al die seksuele misdade daar buite, en dit is geneig om ons oor sensitief  te maak dat ons soms te vinnig “Wolf, Wolf” skreeu.

Ek bedoel nie hiermee dat ouers naïef almal moet vertrou nie, glad nie. Kom ek probeer dit verduidelik om dit in twee kategorieë op te verdeel.

KATEGORIE 1 – Die reaksie

In my navorsing oor die seksualiteit van die Afrikaanssprekende Christen, is daar iets wat baie duidelik na die voorgrond kom. “Die reaksie”

Die ouer vang hulle kind in die bad besig met hom/haarself speel...

Die ouer vind die kind iets op TV kyk met ‘n ouderdomsbeperking...

Die ouer hoor ‘n storie van die kind wat dokter dokter gespeel het...

Die ouer vind uit dat hulle kind het geëksperimenteer met dinge...

 

Waarvan al hierdie dinge baie normaal en algemeen en skadeloos kan wees, TOT die reaksie.

“WAT MAAK JY!!!!”

“HOE KON JY!!!”

“DIS SIEK!!!!”

“LOS DIT, DIT GAAN AFVAL!!!”

“JY GAAN HEL TOE!!!”

“GEEN KIND VAN MY NIE!!!”

Die reaksie.

Selfs ‘n reaksie wat nie so kwaai op die kind afkom nie, kan net so skadelik wees.

“AAAHHHH, JOU ARME DING”

“Sê WEER, WAT HET HY GEDOEN. DIS VREESLIK”

“KOM EK MAAK DADELIK ‘N AFSPRAAK BY DOMINEE”

Die reaksie.

 

Die reaksie van die ouer veroorsaak in baie gevalle die EERSTE trauma in kinderseksualiteit.

 

KATEGORIE 2 – Die beskerming

Ek is self ‘n pa van drie dogtertjies en gaan uit my pad uit om hulle te beskerm. Maar dit is soms maklik om oor paranoïes te raak en jou kinders in die huis te wil toesluit totdat hulle,... nee wag tot verewig.

So hier is so paar goeie beskermings wenke:

1)      Laat maatjies eerder by jou huis kom speel (Wel dit gaan slegs moontlik wees as die maatjie se ouers nie ook hierdie artikel gelees het nie. Ja, hulle vermoed jou ook van sulke dinge.)

2)      Slegs beste maatjies kry sulke kuier voorregte. Ander maatjies is maar by die skool, vriende se partytjies, verjaarsdae, ens.

3)      Maak moeite om jou kinders se beste maatjies se ouers te ontmoet en leer ken.

4)      Maak seker jy en jou kinders kan gesels gereeld oor alles.

5)      Leer jou kind gesonde seksualiteit van ‘n vroeg ouderdom af. Kennis gee mag.

6)      Bid en vertrou die Here dat Hy julle nie sal laat versoek bo julle kragte nie.

7)      Wees betrokke in jou kind se lewe.

8)      Maar bo alles, maak seker jou eie gesindheid oor seksualiteit is gesond, anderste sal “DIE REAKSIE” alles in hierdie kategorie van beskerming neutraliseer.

 

Anoniem, advies spesifiek vir jou geval.

Ek weet dit was ‘n groot skok, en dat dit jou baie omgekrap het. Jy het goed gedoen om so iets vroeg op te spoor. Jy het iets raak gesien en sonder om oor te reageer meer informasie gevra. Die feit dat jou kind alles vir jou vertel het is ‘n goeie teken van vertroue en oop kommunikasie tussen julle. As daar nie enige ander simptome is nie, soos sy wat dit nou met haar maatjies wil doen, of dat sy in publiek wil aan haarself vat, sal ek nie sê dat jou kind getraumatiseerd is deur hierdie eerste vir haar ondervinding nie.

Jou kind is 4 en ken nie die seksuele betekenis van wat sy gedoen het nie. Jou neutrale reaksie gaan haar help om vinnig daarvan te vergeet.  Jy kan vir jou dogtertjie vertel wat haar maatjie gedoen het was verkeerd, want ‘n mense se privaatdele is baie sensitief en kan maklik rooi raak en brand. Daarom mag net jy jouself daar was.

Leer haar dit word privaatdele genoem en daarom moet dit privaat wees.

Jy kan vir haar sê kyk na al die mense rondom ons. Almal het klere aan, dus moet ons ook maar ons klere aanhou.

 

Wat die maatjie aanbetref.

Wanneer kinders saam speel en eksperimenteer dan is dit een ding, maar wanneer daar ‘n duidelike leier is wat sê doen dit of doen dat, verander die spel van dokter-dokter tot ‘n potensiale oortreder-slagoffer.

Kinders wat self slagoffers was, sal daardie selfde dinge op ander wil doen en dus in die oortreder rol in beweeg. Hierdie maak nie die kind sleg of seksueel gefrustreerd of so iets nie, die kind is net besig om ‘n seksuele aktiwiteit te mimiek wat aan haar/hom gedoen was.

As ‘n kind te lank in so ‘n ongesonde atmosfeer bly, vermeerder die kans dat die seksuele oortreding in seksuele trauma verander en groot sielkundige skade kan beteken.

 

Hier is ons advies vir anoniem rondom die maatjie:

Ons stel voordat jy ‘n afspraak maak met die maatjie se ma. Net jy en sy. Vertel haar wat het jou dogtertjie jou vertel en dat dit jou geskok het om te hoor. Ons kan ongelukkig nie weet wat die maatjie se ma se reaksie gaan wees nie, seker skok ook. As julle steeds voel hierdie saak benodig hulp, kan julle altyd ʼn kinderberader, sielkundige of dominee in roep om die gesprek tussen jou en die maatjie se moeder te fasiliteer.

Aan die einde van die dag gaan ons ons kinders die beste beskerm wat ons in staat is om te kan doen. En vir die res gaan ons seker kan maak dat ons reaksie altyd jou kind veilig laat voel by jou.

 

 

Ek verstaan dat hierdie onderwerp het nog baie nodig om oor te sê, en as jy jouself meer wil toerus met Gesonde Seks informasie stel ek die volgende voor.

Sluit aan by ons Gesonde Seks Mentorskap en loop die e-Kursus “Hoe om met jou kinders te praat oor seks.” En dan kan jy al die ander e-Kursusse doen om seker te maak jou eie gesindheid rondom seksualiteit is Gesond.

Skryf in hier: https://www.gesondeseks.co.za/index.php/mentorskap

 

 
Continue reading

Gratis Eboek

Het jy al jou GRATIS e-Boek gedownload?


Jy kan die gratis ebook kry vol wenke en idees om die CEO van jou Huwelike te wees. Lees meer hier.

Twitter Feed

Kontak Ons

Adres:

698 Picassostraat, Moreletapark, Pretoria

Beradings ure:

Ma - Vr: 9:00 - 16:00

Telefoon:

Tel: 086 111 2329

Sel: 082 565 7373

Faks: 086 224 5948

Bly in Kontak

Volg ons op Twitter en Facebook.

Top