Ek het weer een van my gunsteling boeke opgetel “Man’s search for meaning” deur Viktor Frankl en dit is asof met elke bladsy, ek eers die boek weer moet neer sit en gaan “wow” en net toelaat dat my brein vir ‘n oomblik ‘n reset beleef.
Amper soos aan die einde ‘n rekenaar update “Requires restart”.
Toe my brein weer suksesvol neurons kon skiet, het my begeerte om ietsie te skryf, wat ek in jare laas gedoen het. Deesdae vind ek my kreatiewe uitlaat met my standup komedie werk, maar skryf was my eerste liefde. Seker omdat my Afrikaans juffrou vir my gesê het ek moet nooit probeer om ‘n skrywer te word nie, wat my rebelse ekke ‘n vyand gegee het om verkeerd te bewys en omdat ek nie enige ander kreatiewe talente gehad het soos musiek, sport of kuns nie.
Die stukkie wat ek met julle wil deel is 3 dinge wat ons almal nodig het om gereeld te doen in ons verhoudings, om daarin gelukkig te wees. Sien dit soos die nodige voedingstowwe wat jou verhouding nodig het. Die rede hoekom baie verhoudings na ‘n lang ruk saam, ongesond en onstabiel raak, in die sin dat ons daarin ongelukkig en onvergenoeg voel is nie omdat ons verveeld is of gewoon is of weg van mekaar gegroei het nie.
Die rede is dat ons nie die regte voedingstowwe in ons dade, optrede en interaksie met mekaar kry nie.Volgens Victor Frankl’s Logostherapy is daar drie dinge wat nodig is om vervulling in die lewe te bereik.
1) Skep iets of doen iets
2) Beleef iets of iemand
3) Gesindheid waarmee ons onvermydelike lyding hanteer.
Dit is hierdie onvermydelike lyding, wat my dadelik laat dink het aan die huwelik.
As jy lank genoeg getroud is, sal jy onvermydelike lyding in jou liefdesverhouding beleef. Gewaarborg!
Jy ken mos die ontwikkeling van elke verhouding. Eers kom die ontmoeting, dan die verloofring, dan die trouring en dan die groot ontnugtering.En as huweliksberader, sien ek in my praktyk, dit is juis hierdie laaste voedingstof wat so baie paartjies kortkom en daarom word die huwelik tot niet gebring.
Die gesindheid waarmee ons onvermydelike lyding in ons verhouding hanteer. Ons sukkel om ‘n positiewe gesindheid te hê, juis omdat ons glo dat liefde is al wat ons nodig het. As ons lief is vir mekaar sal niks verkeerd gaan nie. En as daar iets verkeerd gaan, beter die liefde is nie meer daar nie, en dus is dit nutteloos om die huwelik te probeer red.
Liefde vrywaar nie lyding nie en lyding is nie ‘n teken van ‘n gebrek of tekort aan liefde nie.
Lyding en teleurstelling is ‘n onvermydelike deel van enige langtermyn verhouding. Dit is ons gesindheid op hierdie onvermydelike lyding wat gaan bepaal of ons gelukkig gaan wees inplaas van die naïewe-Disney “Happy Everafter” hoop dat ons altyd verlief gaan voel op mekaar.
So dan, hoe verander ons ons gesindheid en wat is die beste gesindheid om te hê?
Daardie perfekte gesindheid volgens my is te vinde in die spanning tussen vergifnis en vertroue.