Gesonde Seks

Die ongemaklike waarheid oor seks inisieer.

Baie paartjies sit met dieselfde toneel:
Hy dink sy is nie lus nie.
Sy is lus… maar kan net nie die eerste stap vat nie.
Albei lê stil.
Die kamer is so stil dat selfs die duvet begin ongemaklik hoes. 😅

Die probleem is nie altyd begeerte nie. Dis dikwels kommunikasie wat soos ’n ou Nokia se sein is. Partykeer is dit daar, partykeer nie. En wanneer seksuele taboes deel was van ’n vrou se grootwordjare, kan die “eerste move” voel soos ’n openbare toespraak sonder klere. Amper onmoontlik.

Die goeie nuus? Mens kan leer om daaroor te praat. Nie soos ’n kliniese vraelys nie, maar soos twee mense wat saam ontdek. Wanneer ‘n paartjie mekaar se mees intieme vrese en begeertes ken, kan dit die “moeite” uit seks haal en weer die gemak en genot terug sit.

Hoekom baie vroue nie die eerste skuif maak wanneer dit by seks kom nie

Vir baie Suid-Afrikaanse vroue is die probleem nie dat hulle nie wil nie. Die probleem is dat hulle lank geleer is om nie te wil wys dat hulle wil nie. Van kleins af is daar dikwels boodskappe soos: “’n netjiese meisie dink nie so nie,” “moenie te veel wys nie,” “wag tot jy getroud is,” of die ou bekende skemer-tert-etiket as sy ook net menslik begin voel – “as jy aan jouself vat gaan dit afval!”. Daardie soort opvoeding maak nie net skaamte groot nie; dit leer die liggaam en brein om seksualiteit te onderdruk eerder as om dit veilig uit te leef. Navorsing uit Suid-Afrika wys juis hoe gesins- en skool-sosialisering jong vroue se begrip van hul liggame en seksuele taal kan beperk, en hoe skaamte en en die taboe rondom seks hulle seksuele self-uitdrukking kan demp.

Vir baie vroue is dit dus nie bloot “ek moet meer inisiatief neem” nie. Dit voel meer soos: “Ek het nie woorde nie, ek het nie toestemming in my kop nie, en ek weet nie eers hoe om die deur oop te maak nie.” Dis ook hoekom die ou, lineêre idee van seksuele reaksie – eers begeerte, dan opwinding, dan aksie – nie altyd mooi by vroue pas nie. Basson se model wys dat vroue dikwels met responsiewe begeerte werk: die begeerte kan eers tydens veilige, warm, emosioneel nabye seksuele stimulering opkom, eerder as om vooraf soos ’n vlam in die wind aan te skiet. Met ander woorde, ’n vrou se seksuele “ja” begin nie altyd as ’n hardekoeë impuls nie. Soms begin dit as kalmte, nabyheid, nuuskierigheid en veiligheid. Dit is juis daarom dat die idee van seks inisieer nie eerste by die vrou opkom nie.

Artikel :The Female Sexual Response: A Different Model (Rosemary Basson)

Dit beteken ook iets belangriks vir mans: as jy wag vir ’n vrou om altyd eers die eerste vonkie te wees, mis jy hoe baie vroue se seksualiteit werklik werk. Navorsing oor seksuele kommunikasie en seksuele inisiëring wys dat die manier waarop paartjies oor seks praat, en hoe hulle mekaar se seine lees, ’n groot rol speel in seksuele tevredenheid. Studies oor seksuele kommunikasie en inisiëringspatrone wys ook dat indirekte of onduidelike kommunikasie met laer seksuele tevredenheid kan saamgaan.

En hier kom die kultuur se groot olifant met pantoffels ingesluip: die seksuele dubbelstandaard. Navorsing wys dat die seksuele dubbelstandaard seksuele selfgelding by beide mans en vroue kan ondermyn, en dat tradisionele genderrolle veral vroue minder gemaklik kan laat voel om seks te begin. In eenvoudige taal: baie vroue is nie “stout genoeg” nie, hulle is net gesosialiseer om versigtig, stil en wagend te wees.

Vir die vrou self is dit belangrik om te hoor: dit is nie dat jy gebreek is nie. Dit is dat jou seksualiteit moontlik lank in ’n stil kamer moes sit. Sommige vroue kry later weer taal, ruimte en selfvertroue. Ander het meer tyd, meer veiligheid, meer herhaling en soms doelgerigte hulp nodig. Maar om vir ‘n vrou aanhoudend af te kraak oor sy nie meer seks wil inisieer nie, baat niemand in die verhouding nie.

Vir die man is die boodskap ewe skerp: moenie haar stilheid as onbelangstelling lees nie. Soms is dit skaamte. Soms is dit vrees. Soms is dit ’n ou morele band om die middel van haar begeerte. Die doel is dus nie om haar te druk nie, maar om ’n ruimte te skep waar sy veilig genoeg voel om weer met haar eie sensualiteit vriende te maak. Basson se model ondersteun juis die idee dat vroue se seksuele respons dikwels in ’n konteks van nabyheid, vertroue en positiewe stimulering ontvou.

Baie vroue kan nie seks inisieer nie, nie omdat hulle nie wil nie, maar omdat hulle geleer is om daardie deel van hulself toe te sluit. In ’n kultuur waar seks vir meisies lank as iets gevaarliks, vuils of skandeliks aangebied is, word inisiatief nie net ’n aksie nie, dit word ’n emosionele bergklim. En tog is die berg nie onklimbaar nie. Met veiligheid, taal, geduld, speelsheid en respek kan baie vroue weer leer om hul eie begeerte te herken en te vertrou.

Hier is gespreksonderwerpe wat die ys breek sonder om die hele vrieskas om te gooi. 🧊

1. Begin by die oorsprong: “Hoe was seks vir jou verduidelik?”

Hierdie is goud, want dit wys waar die stories begin het.

Probeer iets soos:
“Hoe is daar oor seks gepraat toe jy grootgeword het?”
“Was daar dinge wat jy gevoel het jy mag nie oor praat nie?”

Hier ontdek julle die ou boodskappe wat nog rondhang. Soos: “Goeie meisies wag,” of “moenie te veel wys nie.” Hierdie tipe kondisionering kan ’n vrou se seksuele selfvertroue demp. Navorsing wys dat kulturele en gesinsinvloede ’n groot rol speel in hoe gemaklik vroue hul seksualiteit uitdruk. Wanneer daardie invloede skaamte bou, raak inisiatief moeiliker.

2. Praat oor die “ek wil maar ek kan nie” gevoel

Baie vroue ervaar dit, maar min sê dit hardop.

Gesprek idees:
“Is daar tye wat jy lus voel maar dit nie kan wys nie?”
“Wat gaan deur jou kop as jy aan die eerste move dink?”

Hier kom die skaamte-stemme uit. En wanneer hulle uit is, verloor hulle krag. Dis soos om ’n monster onder die bed te check. Meeste van die tyd is dit net ’n sok. 🧦

3. Ontdek hoe begeerte werk vir elkeen

Nie almal se lus kom soos ’n weerligstraal nie. Sommige mense is meer soos ’n dimmer switch.

Gesprek idees:
“Wanneer voel jy spontaan lus?”
“Wanneer groei jou lus eerder stadig?”
“Wat help jou om in die bui te kom?”

Navorsing wys baie vroue ervaar responsiewe begeerte. Dit beteken die lus kom nadat intimiteit begin, nie altyd voor nie. So sy wag nie vir ’n vuurwerk nie. Sy wag vir die lont. 🎇

4. Praat oor die eerste move sonder druk

Die doel is nie om verantwoordelikheid oor te gooi nie, maar om ’n span te word.

Probeer:
“Hoe lyk dit vir jou as ek die eerste move maak?”
“Wat sal dit vir jou makliker maak om dit soms te doen?”
“Watter subtiele tekens kan ons gebruik?”

Hier bou julle ’n geheime taal. ’n Hand op die rug. ’n Langer soen. ’n Speelse fluister. Nie elke eerste move hoef ’n Hollywood-toneel te wees nie.

5. Verminder die prestasie-druk

Want niks maak lus vinniger dood as gevoel jy moet nie.

Gesprek idees:
“Voel jy soms jy moet lus wees?”
“Wat laat seks soos ’n plig voel?”
“Wat maak dit speels?”

Wanneer druk afkom, kom begeerte makliker. Dis soos om ’n kat te lok. Jaag hom en hy verdwyn. Sit stil en hy kies jou. 🐈

6. Eindig met iets positief

Hier bou julle nuwe, veilige assosiasies.

Vrae soos:
“Wanneer voel jy die meeste begeer?”
“Wat doen ek wat jou laat goed voel?”
“Wat wil jy saam ontdek?”

Hierdie tipe gesprek versterk emosionele intimiteit. En emosionele intimiteit is soos brandstof vir seksuele verbinding. 🔥

Praktiese wenke vir hierdie gesprekke

  • Moenie dit net voor seks begin nie
  • Kies ’n ontspanne tyd soos ’n stap of koffie
  • Luister om te verstaan, nie om te wen nie
  • Gebruik “Ek voel” eerder as “Jy doen nooit”

Die groot prentjie

Wanneer ’n vrou sukkel om die eerste move te maak, is dit nie noodwendig ’n gebrek aan begeerte nie. Dis dikwels ’n mengsel van opvoeding, skaamte, onsekerheid en ou boodskappe. Maar met veilige gesprekke kan daardie deel stadig weer wakker word.

Nie met druk nie.
Nie met frustrasie nie.
Maar met nuuskierigheid, humor en ’n bietjie speelse geduld. 😉

Want uiteindelik is goeie seks nie ’n solo-optrede nie. Dis ’n duet. En soms moet julle eers die musiek bespreek voor julle begin dans. 💃🕺

Shopping cart

0

No products in the cart.