Gesonde Seks

Vadersdag is gewoonlik vol sokkies, tange, braaivleis en dalk ’n vinnige dankie – maar vandag wil ons bietjie dieper kyk. By Gesonde Seks glo ons dat seksuele gesondheid nie net oor liggaamlike funksie gaan nie, maar oor verhoudings, selfbeeld, emosionele verbinding – en ja, ook vaderskap.

In ons samelewing word mans dikwels gesien as die “sterker een” in die verhouding – die emosioneel stabiele rots, die een wat altyd kalm bly, altyd oplossings vind, en nooit wankel nie. Hoewel dit op die oppervlak dalk edel klink, sit hierdie verwagtinge ’n enorme gewig op mans se skouers. Dit laat min ruimte vir emosionele eerlikheid of swak oomblikke.

Mans word van jongs af geleer om hul gevoelens in te hou, om sterk te wees, om nie te huil nie. Maar hierdie ou storie steel iets kosbaars – die reg om ook broos te wees. Die reg om hartseer te wees. Die reg om oorweldig te voel. En ja, die reg om liefde en ondersteuning nodig te hê.

Om te huil maak jou nie minder van ‘n man nie – dit maak jou méér mens.
Emosies is nie ‘n teken van swakheid nie, dit is ’n teken dat jy leef, voel en omgee. En wanneer jy jou emosies erken, gee jy ook vir jou maat en kinders die vryheid om hul eie te erken. Jy skep ‘n veilige ruimte waar liefde en intimiteit floreer – nie net in die slaapkamer nie, maar in die hele huis.

Wanneer mans hul eie emosionele en seksuele gesondheid versorg, bou hulle nie net aan hul eie welstand nie, maar ook aan hul verhoudings. ’n Gesonde pa is nie net teenwoordig nie – hy is volledig daar, liggaamlik én emosioneel.

👨‍👩‍👧‍👦 Pappa-word verander jou – soms ook op ‘n seksuele vlak.

Wanneer ‘n man pa word, verander sy lewe op drastiese maniere. Hy kry nuwe verantwoordelikhede, sy slaap raak minder, sy stresvlakke klim, en sy prioriteite skuif. Maar wat min mense raaksien, is dat hierdie verandering ook sy seksuele en emosionele lewe beïnvloed.

Seksuele begeerte kan afneem weens moegheid of hormone, en baie mans begin hulself sien as net ‘n “versorger” eerder as ‘n minnaar. Dit is normaal – maar dit beteken nie dit hoef so te bly nie.

Hierdie afname in seksuele libido is so normaal en so oud soos die berge. Dit gebeur ook met die vrou wanneer sy ‘n baba gehad het en het als met ons natuurlike instink te doen. Swangerskap en geboorte bring enorme veranderinge aan ’n vrou se liggaam. Sy herstel fisies, haar hormone is besig om te stabiliseer, sy’s moeg, en dalk voel sy nie meer sensueel of “soos haarself” nie. Dit kan haar selfvertroue beïnvloed, en sy trek moontlik terug – wat vir haar maat kan voel soos verwerping.

Hoe dit die man raak:
As hy sien sy is ongemaklik, emosioneel of nie lus nie, trek hy dalk self terug om haar nie te “druk” nie. Of hy voel verward oor hoe om haar te nader – wat seksuele intimiteit laat afkoel.

Wanneer ’n vrou ’n ma word, verander die rolverdeling tussen paartjies. Vir sommige mans is dit moeilik om hul maat as tegelyk “mamma” en “minnaar” te sien – veral as hulle met onbewuste idees grootgeword het dat “moeders” nie seksuele wesens is nie.

Hoe dit lyk:
Hy aanbid haar as mamma, maar vind dit moeilik om dieselfde seksuele aantrekkingskrag te voel soos voorheen. Hierdie innerlike botsing kan verwarrend en ontstellend wees – vir beide partye.

’n Nuwe baba bring min slaap, baie stres, en ’n nuwe roetine. As hy self uitgeput is of onder druk voel om meer verantwoordelikhede te dra, kan sy eie libido daal. Seks val eenvoudig laer op die prioriteitslys.Sommige mans is bang dat seks haar fisies seer kan maak ná geboorte – veral as hulle nie weet of sy gereed is nie. Hierdie onsekerheid maak hulle versigtig, en hulle wag dalk vir haar om die eerste stap te neem.

As daar tydens swangerskap of geboorte trauma was, of as hy hom tydens daardie proses afgesonder het om sterk te bly, kan dit emosionele afstand veroorsaak. Onuitgesproke vrees, skuldgevoelens of selfs ’n gevoel van uitsluiting kan ’n rol speel.

In die chaos van ouerskap word emosionele intimiteit dikwels die eerste ding wat stil-stil verdwyn. Ouerskap vra spanwerk, maar dikwels voel pa’s dat hul emosies of behoeftes nie plek kry nie – veral in ‘n wêreld waar mans nog sukkel om swakheid te wys.

Intimiteit begin by verbinding, gesels, aanraking, en erkenning. Dis belangrik om as pa ook ‘n veilige ruimte te hê om oor jou emosies, liggaam en behoeftes te praat – sonder skaamte of oordeel.

❤️ Mans het emosies – hulle wys dit net nie

In sy boek What Men Don’t Tell Women About Business: Opening Up the Heavily Guarded Alpha Male Playbook, skryf Christopher Flett dat mans dikwels hul emosies wegsteek omdat hulle van jongs af geleer word dat dit swak is om dit te wys. Hy sê: “Mans huil nie! En as ons dit wel doen, sal ons dit selde erken.” Volgens hom ervaar mans emosies net soos enige ander mens – maar hulle is geleer om dit nie te wys nie. Hierdie dubbele standaard word al van kleins af ingeprent – jy moet ’n privaat gesig hê waarin jy mag voel, en ’n publieke gesig wat altyd sterk lyk en geen “swakheid” toon nie.

Seuns en dogters word nie op dieselfde manier groot gemaak nie. Vir seuns word daar van vroeg af geleer om nie hulle emosies te wys nie. Dat dit onaanvaarbaar is wanneer hulle huil oor iets. Dit word ook gesien in die tipe speelgoed wat ons vir ons seuns gee om mee te speel. Karretjies, gewere, stokke en balle – harde speelgoed wat nie emosie uitlok nie. Vir ons dogters aan die ander kant, gee ons poppe, sagte teddiebere, speel-speel mediese apparatus om haar poppe gesond te maak. Hierdie speel lok emosies by haar uit en leer haar hoe om met empatie groot te word.

Een van die ongeskrewe reëls van tradisionele manlikheid is dus: “Jy mag nie voel nie.” Hierdie ontkoppeling van hart en kop begin al op laerskool. Kleuters en graad 1-seuntjies bring nog hul troetelbere skool toe, hou hande vas en gee liefdevol drukkies. Hulle wys nog emosie. Maar teen graad 2 begin die kultuur van “moenie ’n sissie wees nie” inskop. Skielik is dit “verkeerd” vir seuns om bang, hartseer of huilerig te wees – die mees taboe emosie van almal.

Vir dogters lyk die storie anders. Hulle mag steeds ’n wye spektrum van emosies wys soos hartseer, vrees en simpatie – maar daar is dikwels ’n ander verbode emosie: woede. Al is meisies net so geneig om kwaad te word, word hulle geleer dis nie “vroulik” om dit te wys nie. Daardie opbou van onderdrukte woede neem hulle dikwels saam in hul volwasse lewens. Ironies genoeg is woede een van die min emosies wat wel sosiaal aanvaarbaar is vir seuns om uit te druk. Dis dus nie dat mans nie emosioneel is nie – dit is dat hulle mettertyd leer watter emosies veilig is om te wys, en watter emosies “gevaarlik” is vir hul manlikheid.

Mans word dus geleer om probleme met “woede” uit te sorteer en vroue leer om die woede (en soms emosies) te onderdruk. Hierdie is nie ‘n goeie mengsel vir ‘n gesonde kommunikasie en emosionele verhouding nie.

Hier is ‘n paar maniere hoe mans hulle emosies onderdruk en hoe hulle daaroor voel:

💠 1. Sosiale en kulturele verwagtinge

Van kleins af hoor baie seuns dinge soos:

  • “Moenie huil nie.”
  • “Man up.”
  • “Moenie soos ’n meisie wees nie.”

Hierdie boodskappe leer mans dat emosies soos hartseer, vrees of selfs liefde, swakhede is. Hulle leer dat woede en stilte “veiliger” emosies is – want dit laat jou steeds sterk lyk.

Verwoord aan jou man dat hy mag “MAG huil, MAG bang wees, MAG liefde toon en dat jy nie minder van hom sal dink nie. Inteendeel sal jy MEER van hom dink – want dan praat hy ook jou taal beter.

💠 2. Vrees vir verwerping of oordeel

Mans is dikwels bang dat as hulle hul kwesbare kant wys, mense gaan dink hulle is:

  • Swak
  • Minder van ’n man
  • Nie in beheer nie

Veral in romantiese verhoudings is daar soms ’n vrees: “As ek huil of wys ek’s bang, gaan sy my anders sien?”

Verwoord aan jou man dat hy in jou oë nie minder van ‘n man is nie. Al is hy kwesbaar, dat jy hom nooit sal verwerp net omdat hy emosioneel raak nie en dat hy altyd die man in die huis sal wees. Staan jou man by wanneer hy emosie wys en ondersteun hom in sy emosie. Verwoord die emosie aan hom indien hy self nie weet wat hy voel nie. Nooi jou man uit om openlik met jou hieroor te praat.

💠 3. Hulle het nie altyd die woorde nie

Baie mans het nooit geleer hoe om emosies te identifiseer, noem en verwerk nie. Hulle kan dalk voel iets is “af”, maar weet nie hoe om dit te verwoord nie. So hulle hou dit binne of wys dit deur gedrag soos onttrekking, irritasie of selfs werkverslawing.

Wanneer jy vermoed dat jou man deur ‘n emosionele tyd gaan wat dan in uitbarstings ontaard, moet nie hom verder kruisig oor sy gedrag nie – hy weet soms nie hoe om “reg” op te tree om sy emosies aan jou te toon nie. Dit is “scary” vir mans om te wys dat hulle nie alles onder beheer het nie. In plaas daarvan om te sê “Slaan jy alweer kaste toe!” of “Wat is nou weer fout met jou?” – Sê eerder; “Ek kan sien iets pla jou. Ek is hier om te luister wanneer jy met my wil praat. Ek sal jou kans gee om klaar te praat. Ek verstaan jy is onder druk/gefrustreerd of sommer ge-irriteerd. Is daar iets wat ek kan doen om te help?”

Om net dadelik op die aanval te gaan, gaan niks help om jou man se emosies onder beheer te kry nie. Dit gaan hom net nog meer wil onttrek en dan raak dit al hoe moeiliker vir jou man om sy emosies met jou te deel omdat hy bang is vir verwerping of nog meer aanslag teenoor hom.

💠 4. Beskermer-rol

Mans voel dikwels dat hulle sterk moet wees vir ander – veral as pa, eggenoot of seun. Hulle glo hulle moet alles “hou” vir die mense om hulle, en hulle mag nie “breek” nie. Hierdie rol maak dit moeilik om kwesbaar te wees.

Ons glo al te lank aan die rol-stereotipes van ons mans. Dat dit so maklik vir ons geword het om as vrou te sê – “Hierdie is ‘n man se werk” en dan word ons kwaad of voel verleë wanneer ons mans nie iets kan doen wat ons verwag hulle MOET weet hoe nie. Dit is darem baie onregverdig teenoor ‘n man om te aanvaar dat hulle sommer net als kan doen en weet. Geen wonder mans raak buffels nie. Dit is ‘n fassade.

Dit is tyd dat ons begin herdefinieer wat dit beteken om ’n sterk man te wees. Ware krag lê nie in emosionele onderdrukking nie, maar in die moed om eerlik en menslik te wees. ’n Man wat erken wanneer hy sukkel, en wat hulp soek, is ’n man wat sterk genoeg is om te groei, te genees en liefdevol teenwoordig te wees in sy verhoudings.

💠 5. Vroeë trauma of afleer van emosionele reaksie

Soms het mans emosies gewys in die verlede – en is hulle gespot, ignoreer, of selfs gestraf daarvoor. Met tyd leer hulle dis veiliger om dit weg te steek.

Hoe jou man groot gemaak is, speel ‘n baie groot rol in hoe hy sy emosies hanteer. So moet nie te hard wees op jou man indien hy geen emosionele IK het nie. Leer hom dan en help hom om sy emosies te verken, verwoord en verstaan.

Emosies onderdruk beteken nie hulle verdwyn nie. Hulle kom uit op ander maniere – as stres, fisieke pyn, ongeduld, of emosionele afstand.


🧡 Wat help?

  • Skep veilige ruimtes waar mans emosies mag hê sonder skaamte. Huil saam, lag saam en praat gereeld saam met mekaar. Onthou om jou man se emosies te verwoord vir hom sodat hy die emosionele-taal kan aanleer.
  • Verander hoe ons met seuns praat – dis oukei om te huil en om bang of hartseer te wees. Maak die volgende generasie seuns anders groot. Leer hulle om hulle emosies te verstaan en verwerk en ons dogters mag dalk net met emosionele slim mans eendag trou.
  • Moedig gesprek aan: Vra oop vrae soos “Hoe voel jy regtig?” of “Wat gaan aan agter die glimlag?” Moet hom nie aanval of afskrik nie.
  • Wees dit self – mans het rolmodelle nodig wat wys: jy kan sterk én sag wees.

🎁 ‘n Boodskap aan pa’s

Liewe Pa – jy’s meer as net ‘n broodwinner, bestuurder, baba-sit-punt, of braaimeester. Jy’s ‘n man met emosies, behoeftes en ‘n liggaam wat liefde verdien. Hierdie Vadersdag, gee vir jouself die geskenk van erkenning. Sorg vir jouself, jou liggaam en jou seksuele gesondheid – want ‘n gesonde sekslewe is nie ‘n luuksheid nie, dis noodsaaklik.

GRATIS boek – laai jou boek hier af:

Bederf jou man hierdie Vadersdag met iets stouts:

Shopping cart

0

No products in the cart.