Gesonde Seks

 “Oh no, I’ve lost my MOJO!”  – Austin Powers : The Spy who Shagged me (1999)

Vir dié karakter in die bekende film franchise van Austin Powers – International Man of Mystery is die wegraak van sy “MOJO” (oftewel sy LIBIDO) vir hom so ‘n groot verlies, dat hy tot sovêr gaan om ‘n tydreis-masjien te bou en terug in tyd reis om sy libido te gaan terug kry.

As dit maar net so maklik was om jou libido te gaan “haal” soos toe jy 18 jaar oud was. Maar die werklikheid is, dat dit nie so maklik is nie. En omdat die verlies van ‘n persoon se libido nie iets is waaroor baie mense wil praat nie (en ook nie voor hulp wil kry nie) – raak dit ‘n TABOE onderwerp.

Maar wat presies is jou LIBIDO, hoe verloor jy dit en meer belangrik – hoe kry jy dit terug?

Wat is LIBIDO?

Sigmund Freud het die term “libido” ontwikkel in sy baanbreker werk in psigoanalise. Die term beskryf die mens se dryfkrag, energie of soos dit bekend staan – jou “life force”. Hierdie tipe energie word ook as seksueel beskou. Dit is onseker presies waaruit jou libido bestaan alhoewel hormone ‘n rol speel, is dit nie altyd duidelik hoeveel van ‘n verskil dit maak nie. Maar ander faktore – sielkundige, sosiale en fisiese faktore – werk ook saam om jou libido te skep.

Seksdrang, of libido, verwys na ‘n persoon se begeerte om aan seksuele aktiwiteit deel te neem. ‘n Lae libido verwys na ‘n verminderde begeerte wat verband hou met seks, terwyl ‘n hoë libido ‘n toename in begeerte na seks is.

Nie almal het dieselfde libido nie – ‘n seksdrang verskil van persoon tot persoon. Daar is nie ‘n “regte” of “verkeerde” vlak van libido nie. Elke persoon se “normale vlak” van libido hang van hulle seksuele voorkeure, lewensomstandighede en omgewing af.  Daar is sommige mense wat elke liewe dag seks sal hê – en dan sommer ‘n paar keer per dag (maar vir hulle is dit ‘n “normale” libido) en dan kry jy mense wat slegs een keer per maand of selfs jaar wil seks hê en selfs dit is vir hulle ‘n “normale” libido.

Dit is slegs wanneer daar ‘n afname in jou eie persoonlike “normale libido” is en dit jou bekommerd maak, dat jy ‘n geneesheer of terapeut dalk moet nader.

Hoe verloor ek my LIBIDO?

Daar is ‘n magdom faktore wat daartoe kan lei dat jou libido laer is as gewoonlik, en wanneer jou libido heeltemal verdwyn kan dit ‘n groot emosionele en fisiese verandering in jou denke oor seks veroorsaak – jou verhouding kan daaronder lei, dit kan tot ‘n lae selfbeeld lei en selfs depressie in sommige individue veroorsaak.

Faktore wat tot lae libido lei sluit in:

  • Verhoudings probleme – hierdie is seker die mees algemeenste verlies van libido vir beide mans en vroue. Die eerste ding wat jy moet oorweeg, is of jy gelukkig is in jou verhouding. Het jy enige twyfel of bekommernisse wat die werklike rede vir jou verlies aan seksuele begeerte kan wees?
  • Mediese toestande – langtermyn (chroniese) mediese toestande soos kardiovaskulêre siektes, diabetes en oorgewig wees kan ook ‘n negatiewe uitwerking op jou libido hê.
  • Hormonale wanbalanse – minder algemeen kan lae libido veroorsaak word deur ‘n onderaktiewe skildklier. Dit is waar jou tiroïedklier (geleë in die nek) nie genoeg hormone produseer nie. Algemene tekens van ‘n onderaktiewe skildklier is moegheid, gewigstoename en terneergedruktheid.
  • Geestesgesondheidstoestande – Stres, angs, uitputting en ook depressie kan uitdagend wees en ‘n groot impak op jou geluk en libido hê. Wanneer jy voortdurend moeg, gestres of angstig is, kan jou libido in die wiele gery word.
  • Sekere medikasie – sommige medikasies kan ‘n effek hê op jou libido soos medikasie vir hoë bloeddruk, anti-depressante, medikasies wat gebruik word om psigose te behandel, medikasies wat testosteroon verminder en ook hormonale kontrasepsies. Raadpleeg jou huisdokter indien jy vermoed jou medikasie verminder jou libido.
  • Stres – stress verminder jou “goedvoel” hormone in jou liggaam. Wanneer jy stres, ondergaan jou liggaam ‘n reeks veranderinge om jou voor te berei om weg te hardloop of te bly en te veg. Dit staan ​​bekend as die veg-of-vlug-reaksie. Deel van die veg- of vlug reaksie wat jy mag ervaar, is ‘n toename in hartklop, bloeddruk en asemhalingstempo, en ‘n afname in nie-noodsaaklike liggaam funksies, soos jou seksdrang of dan libido.
  • Veroudering – hierdie faktor is een wat ons ongelukkig nie kan vryspring nie. Saam met veroudering is daar ‘n hele paar faktore wat ‘n rol speel in die vermindering van libido. Dit sluit in menopause (estrogeen vlakke daal), geboorte en borsvoeding, histerektomies en siektebehandeling. Baie mense verloor ‘n mate van belangstelling in seks namate hulle ouer word, hoofsaaklik as gevolg van dalende vlakke van geslagshormone, ouderdomsverwante gesondheidsprobleme of die newe-effekte van medikasie. Veral ouer mans kan lae testosteroonvlakke ontwikkel, wat moegheid, depressie en ‘n verminderde seksdrang kan veroorsaak.

Hoe kry ek my LIBIDO weer terug?

  • Seksterapie

‘n Seksterapeut kan help met seksuele probleme, nie net kan hulle help om jou seksdrang te verhoog nie, kan hulle ook mense ondersteun om orgasme te bereik.

  • Vermeerder slaap

‘N 2023-studie dui daarop dat lae kwaliteit slaap verband hou met seksuele probleme. Daarom kan die strewe om genoeg slaap te kry, help om seksdrang te reguleer. Wanneer jy uitgerus is, werk jou liggaam in optimale funksionering. Die ekstra energie wat gepaard gaan met genoeg rus kan jou libido verhoog.

  • Aphrodisiacs (natuurlike aanvullings)

Daar is ‘n groot aantal natuurlike aphrodisiacs op die mark wat ontwikkel is om libido te verhoog. Hierdie produkte gebruik kruie wat al eeue bestaan om op ‘n natuurlike manier die libido te verhoog.

  • Oefen

Mense kan hul libido verhoog deur oefening, meditasie en joga.

  • Testosteroon terapie

Testosteroonterapie by ouer mans het getoon dat dit hulle kan help om hul seksuele begeerte te herwin. Meer navorsing is nodig om die effekte van testosteroon en seksdrang by vroue vas te stel.

Algemene gesondheid kan jou langtermyn seksuele welstand ondersteun. Oefen gereeld om bloedvloei te verhoog, stres te verminder en jou emosionele staat te verbeter. Eet ‘n gebalanseerde dieet.  Kry genoeg slaap om hormoonvlakke te reguleer.

Sjokolade, oesters, knoffel en fenegriek is ‘n paar voorbeelde van kosse wat dikwels as natuurlike afrodisiacs beskou word. Ginseng, L-arginien, ginkgo biloba en maca is ‘n paar bestanddele wat bestudeer is vir hul vermoë om vroulike libido en seksuele funksie te verbeter.

Jou libido is presies dit – JOUNE. Niemand anders het dieselfde libido as jy nie. Ons kan nie almal dieselfde kam skeer wanneer dit by libido kom nie. Dit is ‘n persoonlike ding. Leer jou liggaam ken en probeer uitvind wanneer jou libido begin verlaag het. Kry aanvullings wat vir jou sal werk. Probeer om meer gereeld seks te hê (al is dit die laaste ding waarna jy smag – hoe meer seks jy het, hoe meer seks hormone skei jy af en hoe meer wil jou liggaam daardie “voel-goed” hormone hê) Probeer om aan jouself te vat en te leer wanneer jou libido geaktiveer word. Praat openlik met jou maat oor hoe jy voel en vra hulp.

Vir natuurlike produkte om jou libido te verhoog – kliek op een van die onderstaande blokkies.

Shopping cart

0

No products in the cart.